Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 53

Vrydag 17 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 32:11–18.

Op pad na volwassenheid

“Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra …” (Deut 32:11).

“Hoe berei ek my kinders vir die lewe voor?” is ’n vraag wat menige ouer kwel. Sommige wil hulle teen die lewe beskerm, laat hulle toe om enigiets aan te vang, kies agterna die kind se kant en betaal die skade. Die kind leer nooit verantwoordelikheid nie. Ander laat die kinders leer om self verantwoordelikheid te neem vir hulle dade. Dit leer hulle selfbeheersing en versigtigheid.

In Moses se afskeidslied neem hy die arende as voorbeeld. In die begin versorg die ouers die kleintjies en gee hulle alles wat nodig is. Die kleintjies sal graag vir die res van hulle lewe sit en kyk hoe alles vir hulle aangedra word. Maar daar kom ’n tyd wanneer die kleintjies moet leer vlieg en vir hulleself sorg. In die begin is hulle bang, want die neste is op hoë kranse gebou. Maar as die ouers die kleintjie uitskop en hulle paniekbevange begin fladder, bly die ouers die hele pad by en duik onder hulle in om hulle te vang en weer na die nes toe terug te neem. So het die Here die volk Israel uit Egipte “geskop” en hulle deur die wildernis gelei om hulle sterk te maak. Maar die Here was die hele pad by hulle, en het keer op keer voorsien wanneer hulle in die nood was.

Ons moet dus nie skrik as dinge soms moeilik gaan nie. Die Here het ons nie verlaat nie – Hy wil ons geloof net ’n bietjie rek. Vertrou Hom, en wees gewillig om te groei.

GEBED: “Here, ek is bang om buite my gemaksone te beweeg. Maar ek vertrou U om my deur hierdie ervaring sterker te maak.”

Lees vanaand in Deuteronomium 32:19–28 oor die tragiese gevolge as iemand sy rug op die Here keer.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх