Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 54

Saterdag 18 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 32:29–35.

Dink vooruit

As hulle wysheid gehad het, sou hulle dit verstaan het, sou hulle begryp het wat hulle uiteinde sal wees (Deut 32:29).

“Onthou, kinders, as julle voor ’n versoeking te staan kom, moet julle nie vra: ‘Wat kan ek daardeur kry?’ nie, maar: ‘Wat sal ek daardeur word?’” het ’n moeder haar kinders probeer voorberei vir die onafhanklike lewe. As jy in die minste oneerlik is, word jy daardeur ’n dief. As jy iemand haat, word jy daardeur ’n moordenaar (1 Joh 3:15). As jy iemand begeer, word jy ’n egbreker (Matt 5:28). As jy sê: “My god is ’n god van liefde, en sal niemand na die hel toe stuur nie,” word jy ’n afgodedienaar, want jy skep vir jouself ’n afgod wat nie bestaan nie. As jy die Here se naam as ’n stopwoord gebruik, word jy ’n lasteraar. En dan dink jy nog jy is basies ’n goeie mens en dat jy hemel toe sal gaan? Kan God heilig en regverdig wees en dit toelaat?

In Moses se lied wil hy die volk help om vooruit te dink en te besef dat die verkeerde keuses tot hulle ondergang sal lei. Hulle moet besef dat hulle verkeerde keuses ook die ander volke om hulle raak. Hulle goddelose lewenstyl ontneem hulle bure van die geleentheid om die ware God te leer ken. Dit is God se eer wat op die spel is.

Vandag is Saterdag, en ons kan self kies wat ons vandag wil doen. Onthou net dat God se eer ook vandag op die spel is. Ons moet dus só aan sport deelneem, of inkopies doen, of by ons vriende en familie kuier, dat ons optrede ’n getuienis sal wees van ’n God wat lewens verander.

GEBED: “Dankie dat U ook vir ons ’n rol het om vandag te speel wat ander mense se lewe kan verander!”

Lees vanaand in Deuteronomium 32:36–43 hoe die Here nog steeds in beheer bly, al lyk dit asof die bose die oorhand het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх