Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 55

Sondag 19 Februarie

Оглавление

Lees Psalm 37:23–31.

Eerste Lydensweek

Tyd om weer op te staan

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op (Ps 37:23–24).

“Die wenner is die een wat, al word hy tien keer platgeslaan, elf keer opstaan,” verduidelik ’n bekende boksafrigter. En al sou ons nie mooi verstaan hoe hy tel nie, kan ons tog die beginsel verstaan en op ons eie lewe toepas. Die lewe is ’n stryd, en soms word ons in die proses platgeslaan. Ons moet nou nie moed verloor en bly lê nie; die Here wil ons help om weer op te staan. Dit is baie sleg vir jou selfbeeld as jy jou werk verloor, of as daar ’n nare teleurstelling in jou lewe is en jou lewensmaat jou verlaat. Dis sleg as jy ’n geliefde aan die dood moet afgee, of as die firma waar jy jou spaargeld belê het, bankrot gaan. Dis hartseer as jou ideale in skerwe spat of as die dokter jou vertel dat jy ’n terminale siekte het. Maar dit is nog nie die einde van die pad nie. Jy kan weer opstaan en moed skep. Jy is nie alleen op dié pad nie. Die Here is langs jou om jou op te help. Hy wil jou ondersteun.

Vandag is een van daardie dae dat die Here jou wil ontmoet en versterk, of dit nou in die kerk of by die huis is. Maak vandag tyd om na Hom te luister en om Hom te vertel hoe jy regtig voel. Hy verstaan baie goed, want Hy het jou mos gemaak. Hy ken jou sterk punte en jou swakhede. En as jy vandag nog lewe, dan is Hy nog nie met jou klaar nie. Hy wil jou vorm en versterk tot ’n sieraad vir sy koninkryk. Staan op, dat die Here met jou kan begin werk!

GEBED: “Dankie dat U nie met my moedeloos raak nie, al raak ek self moedeloos, Here. Tel my weer op, en gee my krag vir vandag.”

Lees vanaand in Psalm 37:32–40 hoe die Here jou wil bemoedig in tye van swaarkry en bekommernis.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх