Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 66

Woensdag 29 Februarie

Оглавление

Lees Handelinge 2:43–47.

Gemeentegroei

En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is (Hand 2:47).

“In watter maand van die jaar eet ’n mens die minste?” Die antwoord is natuurlik Februarie, want dit is die kortste maand, selfs al is dit ’n skrikkeljaar soos vanjaar. Die antwoord is egter nie waar vir almal nie. Mense wat bestaansboerdery beoefen, beleef soms tye wanneer hulle net een maal per dag kan eet, en sommige dae selfs niks nie. ’n Vriend vertel dat hy in Angola ’n meisie van 16 ontmoet het wat vir 16 weeskinders moes sorg. Soms eet hulle net blare met grond gemeng om darem iets in die magies te kry.

Hoe anders as hierdie eerste gemeente! Hulle was lief vir mekaar en het in mekaar belang gestel. Daarom het hulle alles gedeel en saam geëet (v 45-46). Hulle geloof het hulle hele lewe verander. Hulle was nie meer selfsugtig nie. Hulle was deel van een groot familie – die gelowiges – en daarom het hulle so vinnig gegroei.

Vandag sal min mense vir jou sê as hulle ’n geldtekort het – ons is mos te trots daarvoor. Ons sien neer op die bedelaars wat dit wel doen. Maar daar is baie mense wat swaar kry. Sakemanne weet nie waar hulle die geld moet kry om die rekenings te betaal nie. Boere kan nie hulle arbeiders betaal nie, en hele gesinne ly daaronder. Mense verloor hulle werk en kan nêrens weer werk kry nie. Die broodwinner word siek, of daar is ’n staking, en die hele gesin ly daaronder. Daarom moet ons in mekaar belangstel. Ons moet mooi oplet wat by ons bure aan die gang is. Ons moet uitreik met Jesus se liefde na elkeen in nood. Hy sal ons daarmee help.

GEBED: “Here, help my om met u oog na ander te kyk, en wys my waar en hoe ek kan help.”

Lees vanaand in Handelinge 3:1–10 hoe Petrus en Johannes ’n lam man gehelp het deur hom in Jesus se Naam te genees.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх