Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 67

Donderdag 1 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 3:11–16.

Glo in die lewende Jesus

“Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal” (Hand 3:16).

“Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys” (Ps 115:1). Dit is die gesindheid wat ons ook hier by Petrus kry. Net soos Paulus en Barnabas later by Listra gedoen het (Hand 14:14–15), weier Petrus om enige eer vir homself toe te eien. Dit is nie sy eie krag of vroomheid wat die wonderwerk laat gebeur het nie. Dit was geloof (vertroue) wat die lewende Here Jesus alleen kan gee. Petrus wys dus weg van homself af na Jesus toe.

Dit is interessant om op te let dat in die 23 toesprake wat in die boek Handelinge opgeteken is, die onderwerp feitlik sonder uitsondering Jesus se werklike opstanding uit die dood is (Hand 3:15). Dit is die verklaring vir die krag wat daar in die Naam van Jesus opgesluit is: Hy lewe! Hy is nie bloot ’n goeie mens wat ongelukkig doodgemaak is nie. Hy het nie net in die dissipels se gedagtes of verbeelding gelewe nie. Hy leef werklik! En Hy is God. Daarom is niks vir Hom onmoontlik nie.

Daar is deesdae baie mense wat twyfel oor die feit dat Jesus opgestaan het. Hulle kan dit nie wetenskaplik verklaar nie, en glo ook nie meer die getuienis van die ooggetuies soos ons dit in die Bybel opgeteken kry nie. Dit is vir hulle moeilik om die geloofstap te neem “omdat die Bybel so sê”. Maar elkeen wat dit in die geloof gewaag het, se veranderde lewe getuig saam dat Jesus lewe!

GEBED: “Here Jesus, dankie dat U lewe en dat U vandag nog mense se lewens totaal verander.”

Lees vanaand in Handelinge 3:17–26 hoekom verbondsmense hulle moet bekeer, sodat hulle vir alle volke tot seën kan wees.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх