Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 85

Maandag 19 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 9:17–19a.

’n Nuwe begin

“Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word” (Hand 9:17).

“Ag, as ek maar net die horlosie kon terugdraai en oorbegin, sou ek dinge so anders gedoen het,” is menige mens se hartewens. Ons kan wel nie ons verlede verander nie, maar ons kan ons toekoms verander! “Vandag is die eerste dag van die res van jou lewe,” het Billy Graham graag gesê.

Saulus het ’n kans gekry om weer te begin. Hy het ervaar: “Die Here laat U-draaie toe.” Terwyl hy in sy blindheid gesit en vas en bid het, het die vreemdeling Ananias hom kom besoek en hom “broer” genoem! En vir hom goeie nuus gebring: Hy sou weer kan sien, en hy sou deur die Heilige Gees vervul word as toerusting vir sy werk vir die Here. Toe Ananias hom aanraak, kon hy skielik weer sien. Hy het hom dadelik laat doop as teken dat hy nou die volgeling van Jesus geword het. Ons lees vanaf Handelinge 13 dat hy sy naam ook na Paulus (“klein”) verander het. Baie bekeerlinge verkies vandag nog steeds om by hulle doop Christelike name aan te neem. Ons het in Indië vir Peter-Daniel, ’n leraar, ontmoet wat voor sy bekering na een van die Hindoe-gode vernoem was.

Hierdie geskiedenis gee ons dus nuwe moed. Alles is nie verlore nie.

Al het jy die Here hoeveel keer teleurgestel, gee Hy jou ’n tweede kans. Jy kan maar omdraai. Die Vader ontvang graag die verlore seun terug. En dan wil die Here jou in sy koninkryk gebruik, soos Hy vir Saulus sou gebruik. Halleluja!

GEBED: “Here, ek wil graag my lewe ten volle aan U toewy, sodat U my kan vervul met u Gees en gebruik soos U wil.”

Lees vanaand in Handelinge 9:19b–25 hoe drasties Saulus se lewe verander het, en van sy eerste avonture as Christen.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх