Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 68

Vrydag 2 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 4:1–10.

Goed doen is gevaarlik

“Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” (Hand 4:7).

“Hoe is dit moontlik dat jy gearresteer kan word en die nag in die tronk moet slaap, nie omdat jy iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat jy iemand gehelp het?” wonder jy seker ook. Ja-nee, Christen-wees is nie vir sissies nie, en sodra jy voluit vir Christus begin lewe, sal jy vervolg word (2 Tim 3:12). Petrus en Johannes gee vir ons die toon aan, en stel vir ons die voorbeeld van hoe gelowiges in sulke omstandighede moet optree.

Dit is tragies dat die grootste weerstand juis van die kerkleiers van daardie tyd kom. Hulle wou Jesus nie erken as die ware Messias nie, en daarom moes hulle wal gooi teen enige bewys dat hulle verkeerd is. En kyk net hoe dapper antwoord Petrus hulle. Pinkster het regtig hierdie visserman se lewe verander. En sy moedige getuienis laat die kerk dramaties groei, tot vyf duisend binne ’n paar dae (Hand 4:4). En weer eens getuig Petrus dat Jesus regtig lewe (v 10). Dit is wat Jesus so anders maak as enige ander godsdienstige leier. Al die ander is dood en begrawe. Net een se graf is leeg: Jesus s’n. Daarom kan Petrus met groot vrymoedigheid bevestig dat daar geen ander Naam is waardeur ons gered kan word nie: net Jesus s’n (v 12).

Deesdae is dit mode om te sê dat alle godsdienste gelyk is, en dat een nie beter is as ’n ander nie. Maar is dit waar? As wat Petrus hier getuig, waar is, kan die ander mos nie ook waar wees nie. Iewers sal ons ’n keuse moet maak. Wie praat die waarheid? En as ons vir die waarheid kies, kan ons teenstand en vervolging verwag. So was dit nog altyd in die Christelike kerk. Wat kies jy?

GEBED: “Here, help my om vir die waarheid te kies. Dankie dat u Woord se getuienis so duidelik is.”

Lees vanaand in Handelinge 4:11–22 oor die uniekheid van Jesus en Petrus se vreeslose verkondiging daarvan.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх