Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 72

Dinsdag 6 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 5:12–16.

Die vrug van kerklike tug

Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg (Hand 5:14).

“Meneer die Voorsitter, ek sou graag wou hoor wat in daardie gemeente aangaan, want ek sien dat 93 lidmate in een jaar onder sensuur geplaas is,” sê een van die ouderlinge by ’n ringsitting. “Ja, dit is so,” erken die betrokke leraar, “en die meeste is onder sensuur geplaas omdat hulle nie meer kerkdienste bygewoon het nie. Die gevolg is dat 91 van hulle tot dusver tot bekering gekom het, en vandag leiding neem in die gemeente.” In daardie gemeente in die Oos-Kaap het die tug reg gewerk.

Dit het ook in Jerusalem gebeur. Die gebeure rondom Ananias en Saffira het gekeer dat huigelaars by die gemeente aansluit. En tog het die gemeente gedurig aangegroei deur ware bekerings (Hand 5:14). Is dit nie wat die Here eintlik wil hê nie? Daar is so baie “dooie” lidmate in elke gemeente dat daar nie eintlik meer veel verskil is tussen gelowiges en ongelowiges nie. En in watter gemeente speel die kerklike tug nog enige rol? Sonde word nou eenvoudig oorgesien. En die Naam van Christus word in die modder vertrap.

“Maar Dominee, ons kan mos nie daardie lidmate onder sensuur sit nie – dit sal die mense uit die kerk wegjaag,” maak ’n ander ouderling tydens die kerkraadsvergadering beswaar. Hy sien nie raak dat die mense in elk geval reeds prakties uit die kerk is nie. En as hulle nie ernstig opgeneem word en aandag kry nie, sal hulle vir ewig verlore gaan. Moet ons hulle in vrede laat hel toe gaan, of moet ons in liefde na hulle uitreik? Ware geloof word tog aan sy dade geken (Jak 2:17).

GEBED: “Here, help ons om vir verlorenes om te gee.”

Lees vanaand in Handelinge 5:17–25 van die Here se humor toe die apostels in die tronk gegooi is. Hy is mos almagtig!

Uit die Beek 2012

Подняться наверх