Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 86

Dinsdag 20 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 9:26–31.

Die bemoediger

Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring (Hand 9:27).

“As ’n baba pas gebore is, word hy nie in ’n yskas gesit nie. Hy word warm toegemaak en liefdevol versorg.” Dieselfde beginsel geld ook vir nuwe bekeerlinge. Dit is baie sleg as iemand na die Here gelei word en dan terstond verlaat word om self te sien kom klaar. ’n Nuwe gelowige het versorging nodig. Die Here Jesus het ons beveel om dissipels – leerlinge – te maak, nie net bekeerlinge nie. Dit kos tyd en persoonlike aandag.

Toe Saulus in Jerusalem aankom, was die Christene nog steeds vir hom bang. Hulle wou hom nie in hulle geledere toelaat nie, tot Barnabas hom by hulle ingetrek het. Barnabas was die eerste gelowige wat sy eiendom verkoop het en die geld uitgedeel het. Sy naam beteken “iemand wat mense moed inpraat” (Hand 4:36). Dit was Barnabas wat hom veertien jaar later ook in Antiogië in die leierskap van die gemeente ingetrek het (Hand 11:25–26). Barnabas en Saulus was die eerste sendelinge wat deur ’n gemeente uitgestuur is (Hand 13:1–3). Toe Paulus later nie kans gesien het om Markus weer saam te neem nie, omdat hy ’n vorige keer uitgesak het, was dit Barnabas wat vir Markus omgegee het, en met hom saamgeneem het (Hand 15:39). Hy was ’n ware dissipelmaker.

Ons het almal ’n Barnabas nodig om ons op die pad van die Here te bemoedig. Is jy gewillig om dit vir iemand anders te wees? Hou jou oë oop vir nuwe gelowiges, en stel persoonlik in hulle belang en help hulle groei deur tyd aan hulle te gee.

GEBED: “Dankie, Here, vir elkeen wat ons op die pad bemoedig. Help ons om ander ook so te bemoedig.”

Lees vanaand in Handelinge 9:32–35 hoe Eneas se genesing tot baie mense se bekering gelei het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх