Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 76

Saterdag 10 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 7:17–22.

Toegerus

Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het uitgeblink in woord en daad (Hand 7:22).

“God berei groot manne voor vir groot take deur groot beproewings,” het JK Gressett geskryf. Die groot prediker Peter Marshall het daarby gevoeg: “God sal nie toelaat dat ons beproef word nie, tensy Hy ’n groot plan het sodat daar groot seën uit die probleme kan kom.” Dit sien ons in die geskiedenis van Moses wat Stefanus hier vertel.

Stefanus is aangekla dat hy vir Moses en sy wet verwerp (Hand 6:13). In sy verdediging wys hy nou dat hy net die hoogste respek vir Moses het, en dat hy ten volle op die hoogte was van Moses se sterk punte en swakhede. Hy vertel dus van die gevare wat die klein babaseuntjie bedreig het, en hoe die Here sy lewe gespaar het. Dan gaan hy voort om te vertel hoe Moses die beste opleiding gekry het, iets wat hy later jare nodig sou hê om die volk Israel na vryheid te lei. God het ’n baie spesiale mens voorberei en toegerus vir ’n baie spesiale werk. Hy het dus die Egiptenare verstaan en kon hulle taal op die hoogste kulturele vlak praat en skryf. Hy was dus die regte mens om met die Farao te onderhandel.

’n Mens verstaan dikwels nie mooi waarom dinge oor jou kom nie. Dit sou sinneloos gewees het, as ons nie geweet het dat God nog steeds in beheer is nie. Hy laat soms groot beproewings toe om ons vir groot take voor te berei, soos ons hierbo gelees het. Kyk ’n bietjie terug oor jou lewe as jy wil verstaan waarheen God met jou op pad is. Hy rus jou toe vir ’n spesiale taak. Kom ons vertrou Hom om sy volmaakte wil in ons uit te werk.

GEBED: “Hemelvader, ek verstaan dikwels nie waarom dinge met my gebeur nie, maar ek weet U het ’n doel daarmee.”

Lees vanaand in Handelinge 7:23–29 hoe Moses moes leer dat geweld nie die oplossing is nie.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх