Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 73

Woensdag 7 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 5:26–32.

Die seën van gehoorsaamheid

“En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is” (Hand 5:32).

“Ons moet gereed maak om aangekla te word en selfs tronkstraf te kry net omdat ons aan die Here gehoorsaam is,” skryf ’n bekende Amerikaanse leraar. En dit het reeds begin. Een predikant wat met sy gemeente voor ’n aborsiekliniek gestaan het om jong meisies te probeer afraai om hulle babas te laat doodmaak, is aangekla en skuldig bevind, en beveel om meer as agt miljoen dollar skadevergoeding aan die kliniek te betaal! Ook in ons eie land is gemeentes wat aan die Here se Woord getrou wou bly, skuldig bevind en swaar beboet. Gehoorsaamheid kos iets.

Die apostels is uit die tronk gered, en het voortgegaan om die evangelie in die tempel te verkondig. Toe die Joodse Raad hulle vra hoekom hulle dit doen nadat hulle ernstig vermaan is om dit nie te doen nie, het hulle verduidelik dat hulle aan ’n hoër gesag onderworpe was. “ ’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” (Hand 5:29). Die regters het gekla dat hulle nou die skuld kry oor Jesus se dood. ’n Paar weke vantevore het dieselfde leiers vir Pilatus gesê: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!” (Matt 27:25). Nou maak hulle of hulle onskuldig is.

Petrus lê weer klem daarop dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het, dat Hy mense help om hulle te bekeer en dat Hy hulle sondes vergewe (Hand 5:31). En die Heilige Gees is bedoel vir elkeen wat aan God gehoorsaam is (v 32). Dit beteken ook vir jou en vir my, as ons gewillig is om voluit vir God te lewe.

GEBED: “Here, ek wil graag volledig aan U gehoorsaam wees. Rus my daarvoor toe met die krag van u Gees.”

Lees vanaand in Handelinge 5:33–42 van Gamaliël se wyse woorde, en hoe vervolging die gelowiges geraak het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх