Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 71

Maandag 5 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 5:1–6.

Allesverloren

“Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God” (Hand 5:4).

“Allesverloren” is die naam op ’n hek langs ’n grondpad. ’n Mens wonder dadelik wat die storie agter die naam is. Wat sou in hierdie boer se lewe gebeur het? Watter rampe het hom getref? Wat het toe daarna gebeur?

Die geskiedenis van Ananias en Saffira kan dalk as ’n illustrasie dien om so ’n naam te verklaar. Dinge het vir hulle so goed gelyk. Hulle was verstom toe hulle sien en hoor hoe van hulle medegelowiges hulle eiendomme begin verkoop en die geld vir die armes gee. (Hulle was waarskynlik oortuig dat die wederkoms van Christus baie gou sou gebeur.) En die ander gelowiges het hulle toegejuig. Toe het hierdie egpaar besluit dat hulle ook so ’n bietjie status kon kry deur dieselfde te doen. Hulle verkoop die grond, en hou ’n deel van die koopsom terug en gaan vertel dat hulle “alles” daarvan weggee. Maar deur hierdie leuen het hulle alles verloor.

Petrus verduidelik vir Ananias dat die geld mos syne was, en dat hy soveel as wat hy wou, kon terughou. Dit was nie nodig om daaroor te lieg nie. Maar God is heilig, en laat sy Naam nie so vertrap nie. Ananias sak toe net daar inmekaar en sterf. Van die geld wat hy wou geniet, kon hy niks gebruik nie. Die eer wat hy gesoek het, het hy alles verloor. Vir ewig sou hy as leuenaar gebrandmerk wees. Vormgodsdiens en huigelary kos duur.

Die Heilige Gees weet alles. Om vir Hom te lieg, is om vir God te lieg (Hand 5:3–4). Wat sien die Heilige Gees vandag in jou en my hart? Is ons toewyding eg, of net vir vertoon?

GEBED: “Here, ek wil nie ’n huigelaar wees nie. Maak my oorgawe eg en volledig, sodat U daardeur geëer kan word.”

Lees vanaand in Handelinge 5:7–11 hoe Saffira dieselfde leuen as haar man vertel, en dieselfde loon kry.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх