Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 84

Sondag 18 Maart

Оглавление

Lees Psalm 40:14–18.

Vyfde Lydensweek

Die beste helper

Ek is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie! (Ps 40:18).

“Ai Meneer, ons het van De Aar af gekom om werk te soek, maar daar is niks werk nie, en die kinders is honger,” verduidelik die hulpsoeker by die voorhekkie. Hy is een van duisende wat in hierdie dae hulpeloos en arm voel, terwyl al hoe meer fabrieke moet sluit en plaaswerkers hulle werk verloor as gevolg van die nuwe wetgewing. Wat maak ’n mens in sulke omstandighede?

Dawid het ook so gevoel, maar hy het geweet van iemand wat aan hom dink: die Here. Die Here sal hom help, het hy geweet. Hy het net nie geweet hoe dit sal gebeur nie. Hy sê ook die Here is sy Redder. Hy het natuurlik nog nie van Jesus geweet nie, en hoe Hy ons wil red nie. Sy gedagte was seker maar net op die tydelike dinge gerig. Ons weet van beter: Jesus red nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die ewigheid. Ons kan dus ’n veel dieper betekenis in Dawid se woorde sien.

In die Lydenstyd word ons gereeld herinner aan wat Jesus gewillig was om te doen omdat Hy vir ons omgee. Hy het alles verloor – selfs sy klere – sodat ons alles kan wen. Hy het presies geweet wat die uiterste armoede is. Hy het geen eiendom besit nie, en moes dikwels in die veld slaap. Hy was van die goedheid van ander afhanklik om te oorlewe, al kon hy duisende mense met ’n paar broodjies voed. Hy verstaan elkeen se nood. Ons kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan.

GEBED: “Here, ons bid vir elkeen wat vandag in nood is. Help hulle asseblief. Moet tog nie talm nie!”

Lees vanaand in Psalm 41:1–5 wat die Here belowe aan elkeen wat omgee vir swakkes en hulle versorg.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх