Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 69

Saterdag 3 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 4:23–31.

Bid vir vrymoedigheid

“En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig” (Hand 4:30).

“Wat doen ’n mens as jy teenstand en vervolging oor jou geloof in Christus ervaar?” Ons sien dat die eerste gemeente bymekaarkom om te bid. In sulke omstandighede sou ons dit seker ook gedoen het. Waarvoor het hulle gebid? Vir beskerming, soos ons waarskynlik sou doen? Nee, glad nie – hulle bid vir meer vrymoedigheid om die goeie nuus vreesloos met almal te deel! Hulle was totaal uitverkoop aan die Here Jesus, en gewillig om vir Hom te sterf, soos Petrus destyds in sy swakheid belowe het (Matt 26:35).

Let op na hulle gebed: Hulle haal dikwels uit die Ou Testament aan om te bevestig dat die Here die Almagtige is. Hulle besef dat hierdie bedreigings wat hulle ervaar, niks nuuts is nie. Die profete van destyds het dit voorspel en self ervaar. En die gemeente was oortuig dat alles wat die vorige weke gebeur het, maar net deel was van God se groot plan om sondaars te red. God is nie onverhoeds betrap nie. Hy is nog steeds ten volle in beheer! Daarom kon hulle bid vir vrymoedigheid te midde van soveel dreigemente. En God verhoor sulke gebede, soos ons vanaand sal sien.

Dieselfde drie-enige God wat daardie dag in Jerusalem aan die werk was, werk vandag nog. Ons kan dus ook teenstand van die mees onverwagte oorde verwag. Maar ons moet nie daarvoor bang wees nie. Ons het ’n boodskap wat lewens verander. Ons het die beste geestelike wapens waarvan ’n mens kan droom. Dieselfde Heilige Gees wil ons kragdadig vervul en gebruik!

GEBED: “Here, maak my vrymoedig om die waarheid te deel met mense wat U nodig het.”

Lees vanaand in Handelinge 4:32–37 hoe dié gebed dramaties verhoor is, en hoe die herlewing daarna lewens verander het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх