Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 70

Sondag 4 Maart

Оглавление

Lees Psalm 39:1–8.

Derde Lydensweek

Oppas wat jy sê

Ek wil sorgvuldig let op my lewe en nie sondig met wat ek sê nie (Ps 39:1).

“Jy praat twee maal voor jy dink,” het my pa eenkeer vir my gesê nadat ek as tiener iemand deur my onbedagsame woorde baie seergemaak het. En deur die jare het dit baie keer gebeur dat ek mense deur sulke onnadenkende woorde aanstoot gegee het sonder dat ek dit so bedoel het. Dit is veel makliker om maar net stil te bly as om agterna met verskonings en verduidelikings te probeer regmaak wat ek verkeerd gepraat het.

Dit klink in vandag se psalm asof Dawid ook met dieselfde probleem geworstel het. Hy vertel hoe hy hom voorgeneem het om niks te sê nie, maar voor hy hom kom kry, het die woorde uitgeglip. Lees hoe moedeloos hy met homself is. Hy is bewus dat die lewe maar kort is, en dat ons elke minuut – en elke woord – reg moet gebruik.

Dalk is jy ook een van die onvolmaakte mense op aarde wat soms die verkeerde goed sê. Jakobus sê dat sulke woorde soos ’n vuur is wat groot skade aanrig (Jak 3:6). Ons het maar gereeld ’n brandblusser nodig. En juis daarom is dit nodig dat ons saam met ander gelowiges die Here gaan ontmoet – nie om fout te vind of te kritiseer nie, want dan is dit juis die verkeerde plek om te wees, maar om saam te luister na God se Woord en sy wet, sodat ons op ons hoede kan wees. En sodat ons saam die Here om vergifnis kan vra en onsself aan die bestuur van die Heilige Gees kan oorgee, sodat Hy ons die regte, opbouende woorde kan gee.

GEBED: “Vergewe my die verkeerde woorde wat U en my medemense seermaak, Here, en gee my die regte woorde.”

Lees vanaand Psalm 39:9–14 en kyk watter vers jou aan Christus se lyding herinner. Watter vers wil jy bid?

Uit die Beek 2012

Подняться наверх