Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 79

Dinsdag 13 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 7:44–53.

Skynheiliges

“Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees” (Hand 7:51).

“As jy wil weet hoe ’n skynheilige lyk, kyk in die spieël.” Ons is almal geneig om ’n ander gesig op te sit sodra ons in iemand anders se teenwoordigheid kom. Die manne probeer hulle mae intrek as ’n mooi meisie verskyn, en die dames probeer so mooi en vriendelik as moontlik lyk in vreemde geselskap. Baie mense se verskoning is dat hulle nie kerk toe gaan nie omdat daar te veel skynheiliges is. Moody se antwoord was: “Ek sit eerder my hele lewe saam met skynheiliges in die kerk, as die ewigheid saam met hulle in die hel.”

Tot dusver het die leiers heel beleefd geluister na wat Stefanus vertel het. Hulle het met die meeste daarvan saamgestem. Nou begin hy egter persoonlik raak. Hy weet hulle is skynheilig, al probeer hulle so vroom lyk. Diep in hulle harte is hulle nog heidens. Hulle weier om die waarheid te erken en hulle lewe te verander. Hy sê hulle weerstaan die Heilige Gees. Hulle het Christus laat doodmaak, net soos hulle voorouers die ander profete ook doodgemaak het (Hand 7:52). Hulle het die wet van God geken en verkondig, maar self het hulle dit nie gehoorsaam nie (v 53).

Ons moet oppas om die Fariseërs en Sadduseërs nie te gou te veroordeel nie. Ons sê maklik dat ons nie selfgesentreerd is nie – maar wie se gesig soek jy eerste as jy ’n groepfoto sien waarop jy ook is? Is dit nie jyself nie? En as die dominee kom huisbesoek doen, is jy gewillig om die masker af te haal en openlik te praat oor die sondes wat jou telkens onderkry?

GEBED: “Here, maak my oop en eerlik voor U.”

Lees vanaand Handelinge 7:54–60 en merk wat jou opval van Stefanus terwyl hy vermoor word. En van Jesus?

Uit die Beek 2012

Подняться наверх