Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 80

Woensdag 14 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 8:1–4.

Uiteindelik gehoorsaam!

Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig (Hand 8:4).

“Die Here Jesus het die dissipels beveel om die evangelie na die hele wêreld te neem, maar hulle het in Jerusalem vasgesteek en mekaar daar lekker warm gebroei. Dit het vervolging gekos om hulle gehoorsaam te maak aan hulle Here se opdrag.” So het die Here ’n groter doel gehad toe Hy die vervolging van die Christene toegelaat het. Nou het almal – behalwe die apostels self (Hand 8:1) – vir hulle lewens gevlug en oral waar hulle kom die evangelie van Jesus “geskinder”. Al was die omstandighede swaar, kon hulle nie stilbly oor die goeie nuus nie. Let op: Die getuies was nie die kerkleiers nie, maar gewone lidmate. Die apostels het eers in Jerusalem agtergebly en eers heelwat later ook die wêreld ingevaar om die evangelie te gaan uitdra.

Dit is interessant om op te let dat iets soortgelyks ook hier in Suid-Afrika aan die gang is. Terwyl dinge nog maklik gegaan het, het min van ons daaraan gedink om na die buiteland te gaan om die evangelie uit te dra. Maar toe dinge moeilik begin raak as gevolg van misdaad en regstellende aksie, het duisende Suid-Afrikaners na ander lande uitgewyk. Daar het hulle by die plaaslike gemeentes ingeskakel en sommer gou daar begin leiding neem. Ander het gaan werk soek in lande wat heeltemal vir sendelinge gesluit is. Vandag is daar duisende Christene in die 10-40-venster waar die mees onbereikte volksgroepe woon. Is dit toevallig, of is dit die Here wat besig is om sy koninkryk ook daarheen uit te brei?

GEBED: “Here, vergewe ons ons ongehoorsaamheid aan u groot opdrag. Help my om my deel ten volle te doen.”

Lees vanaand in Handelinge 8:5–8 wat in Samaria gebeur het toe ’n diaken sy geloof begin uitleef.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх