Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 87

Woensdag 21 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 9:36–43.

Menseregtedag

Regte mense

Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help (Hand 9:36).

“Ek lees in die Bybel baie meer van regte mense as van menseregte,” noem iemand met ’n glimlag. Baie toesprake sal vandag, Menseregtedag, oor menseregte gaan, en die klem sal meestal op selfsugtige oorwegings val. Dit sal gaan oor mý regte. Nie oor ander mense wat in nood is nie. Iemand het eendag die verskil tussen kommuniste en Christene só verduidelik: “Die kommunis sê: ‘Wat joune is, is myne.’ Die Christen sê: ‘Wat myne is, is joune.’” Die een word aangedryf deur selfsug, die ander deur liefde.

Tabita was ’n pragtige voorbeeld van Christelike omgee. Die liefde van Christus het haar oë oopgemaak vir die nood van die mense om haar, en sy het met al haar kundigheid en talente na ander uitgereik en hulle gehelp. Sy het selfs vir die armes klere gemaak (Hand 9:39). Dit was vir die armes dus ’n groot ramp toe Tabita siek word en sterf, want daar was niemand anders soos sy wat daadwerklik vir hulle omgegee het nie. Hulle het toe vir Petrus laat roep, en die Here het haar op Petrus se gebed weer lewendig gemaak.

Wat het ons in ons land nodig? Menseregte is belangrik, ja, maar as dit afgedwing moet word, is die probleem nog nie opgelos nie. As mense deur Christus nuut gemaak is, sodat hulle waarlik vir ander begin omgee, dan sou menseregte nie meer afgedwing hoef te word nie – dinge sal self regkom. Hoe wonderlik sou dit nie wees as alle Suid-Afrikaners die regte soort mense kon word nie! Dit sou darem baie probleme oplos!

GEBED: “Here Jesus, baie dankie vir mense soos Tabita wat hulleself gee om ander te help. Maak my ook so ’n persoon.”

Lees vanaand in Handelinge 10:1–8 hoe die Here vir Kornelius na Petrus toe gestuur het, sodat nie-Jode ook Christene kon word.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх