Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 65

Dinsdag 28 Februarie

Оглавление

Lees Handelinge 2:29–36.

Jesus is die Here!

“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” (Hand 2:36).

“Wat sou die gemeentelede doen as die dominee reguit oor hulle sondes begin praat?” kom die vraag nou die aand in ’n kleingroep op. “Hulle sal kwaad word en uitstap,” merk die eerste groeplid op. Ons is mos nie meer gewoond daaraan dat sonde by die naam genoem word nie. Ons verkies liewer dat mense in vrede hel toe gaan, of hoe?

Petrus se lewe het radikaal verander. ’n Paar dae tevore was hy nog so bang vir sy lewe dat hy onder eed verklaar het dat hy glad nie vir Jesus ken nie! Hy was doodbang. En nou, ná die Heilige Gees sy lewe oorgeneem het, is hy absoluut vreesloos. Hy staan hier voor baie van die mense wat ’n paar weke tevore uitgeroep het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” en beskuldig hulle daarvan dat hulle Jesus onskuldig laat doodmaak het, sonder om te besef wie Hy werklik was. Hy was die Christus, die verwagte Messias. Dit was die Here van Israel vir wie hulle daardie dag verwerp het. En die Heilige Gees oortuig hulle, sodat hulle dadelik begin hulp soek.

Die evangelie gaan nie oor ’n klomp reëls wat ons moet onderhou nie. Dit gaan nie daaroor dat ons sekere sondes moet vermy en so probeer om onsself te red nie. Dit gaan oor ’n Persoon: Jesus van Nasaret. Wie was Hy? Wie is Hy? Mense spot maklik in hulle onkunde met Hom, maar as die Heilige Gees jou begin oortuig van wie Hy werklik is, dan kan jy net een ding doen: op jou knieë val en om genade roep.

GEBED: “Here Jesus, vergewe my dat ek so maklik vergeet wie U regtig is, en wat U vir my gedoen het.”

Lees vanaand in Handelinge 2:37–42 hoe drie duisend mense ná hierdie eerste preek vir Christus aangeneem het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх