Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 64

Maandag 27 Februarie

Оглавление

Lees Handelinge 2:14–21.

Nuwe geesdrif gee hoop

“Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom” (Hand 2:17).

“Die Bybel sê …” was Billy Graham se geliefkoosde woorde tydens sy preke. En duisende mense het die Here as Verlosser leer ken. Billy vertel dat hy in ’n tyd van groot vertwyfeling doelbewus gekies het om die gesag van die Bybel te aanvaar, en dat die Here hom daarna kragtig gebruik om mense na Christus te lei.

Dit is niks nuuts nie. Petrus, vol van die Heilige Gees, het ook die Bybel aangehaal om te verduidelik wat aan die gang was (Joël 2:28). Hy het verduidelik dat wat die mense sien en hoor die vervulling was van daardie profesie oor die laaste dae. (Die “laaste dae” het begin met die koms van die Messias, en sal eindig by sy wederkoms.) Die uitstorting van die Heilige Gees is nie net vir kerkleiers nie, maar vir kinders, jongmense en selfs bejaardes. Hulle sal almal geesdriftig wees oor die koms van die koninkryk van God. (Profete was mense wat God se boodskap oorgedra het, nie mense wat die toekoms kon voorspel nie.)

Verlang jy ook dat daar ’n nuwe openbaring van die krag van die Heilige Gees in ons dae sal plaasvind, wat alle Christene se harte sal laat warm klop vir die uitdra van die evangelie? Ons sien reeds die eerste tekens daarvan, as kinders met groot vrymoedigheid begin uitreik na ander mense. Jongmense begin op nuwe maniere om die koms van die koninkryk te bevorder. Sommige van hulle ry in hulle vakansie om die grense van ons land, en bid elke dag vir herlewing. En bejaardes doen ook hulle deel! Halleluja!

GEBED: “O Heilige Gees, kom verander ons land tog weer!”

Lees vanaand in Handelinge 2:22–28 hoe God in beheer was toe Jesus aan die kruis gesterf het en ook toe Hy weer opgestaan het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх