Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 58

Woensdag 22 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 33:20–29.

Aswoensdag

Verloste mense

Jy is ’n volk wat deur die Here verlos is! (Deut 33:29).

Vandag is Aswoensdag. “Wat is dit? Is dit die dag as die askar die rondte doen?” wonder jy dalk. Baie kerke het die gewoonte om vandag ’n spesiale diens te hou, 46 dae voor Paassondag. Dan sal die leraar as neem en daarmee ’n kruis op sy voorkop trek. Elke lidmaat sal dan ook vorentoe kom en dieselfde teken ontvang. Dit wys dat hulle jammer is dat hulle sonde veroorsaak het dat Jesus aan die kruis moes kom sterf. Aswoensdag is ook die begin van die vastyd (“Lent”) waarin hulle hulle van lekker kos en plesier sal onthou uit eerbied vir Christus se lyding. Hulle wil daardeur wys dat hulle dankbaar is dat hulle deur Christus verlos is.

“Wat is die vernaamste boodskap van Deuteronomium vir vandag?” vra ons hier waar ons nou aan die einde van hierdie lang geskiedenis gekom het. Ons het gelees hoe die Here ’n slawe-volkie uit Egipte vrygemaak het, hoe Hy met hulle gewerk het en hoe Hy hulle tot op die grens van die beloofde land gebring het. Hier in die tweede laaste hoofstuk vat Moses die boodskap van die boek saam in vandag se teksvers. Die mense moet altyd onthou dat hulle verloste mense is, en daarvolgens lewe.

Die doel van die wette in die boek is om ons te laat besef dat ons sondig is, en dat ons onsself nie kan red nie. Ons is nie goed genoeg nie. God se standaard is gans te hoog. Maar ons weet ook dat Christus juis gekom het om te soek en te red dié wat verlore is (Luk 19:10). Net ’n besef van ons verlorenheid gee ons ’n besef van die grootheid van sy liefde en genade.

GEBED: “Dankie vir u onverdiende genade teenoor ons, Here. Help ons om as verloste mense u volk te wees wat u wil doen.”

Lees vanaand in Deuteronomium 34:1–12 oor die einde van Moses se lewe, en eien die kragtige getuienis in vers 10 vir jouself toe.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх