Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 57

Dinsdag 21 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 33:8–11.

Getroue werkers

Die mense van Levi is gehoorsaam aan u bevele, hulle eerbiedig u verbond (Deut 33:9).

“Dit is opmerklik dat die mense wat die diepste in sonde geval het en daarna tot bekering kom, dikwels die geesdriftigste sielewenners word,” sê iemand by ’n kleingroep. Luister maar na die getuienisse van bekeerde sataniste en bendeleiers. Jy kan self dadelik aan ’n paar voorbeelde dink. Hulle verstaan dat hulle net uit genade gered is, en wy hulle lewe heelhartig aan hulle Verlosser.

In Moses se plek sou ons seker dadelik vir Aäron afgedank het nadat hy die goue kalf gemaak het (Eks 32:2–5, 21). Maar God se genade is groot, en Aäron is vergewe en het daarna ’n getroue hoëpriester geword. By Massa en Meriba het hy by sy kleinboet Moses gestaan (Num 20:2). Tydens die episode met die goue kalf was dit die Leviete wat by Moses gestaan het, en gewillig was om die afgodsdienaars tereg te stel, al was hulle familielede (Eks 32:26). Daarom is hulle uitgesoek om in die tabernakel te dien en om aan die volk onderrig te gee (Deut 33:9–10). Moses was self uit die stam van Levi (Eks 2:1).

Ons moet altyd onthou dat ons self dikwels die enigste Bybel is wat ons medewerkers lees. As ons aan die Here getrou bly, dra dit ’n sterk getuienis uit. As ons ter wille van gewildheid maar met die stroom saamgaan, is die kans maar skraal dat ons vir iemand anders tot seën kan wees. “As iemand in ’n put val, help jy hom nie deur self ook in die put te spring nie.” Die groot toets is of ons gehoorsaam is aan God se bevele, en of ons sy verbond ernstig opneem, soos die Leviete.

GEBED: “Here, maak my ook volledig gehoorsaam aan u bevele. Dankie vir u genadeverbond met my en my nageslag.”

Lees vanaand in Deuteronomium 33:12–19 die volgende seënuitsprake en let op hoe hulle verskil.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх