Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 50

Dinsdag 14 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 30:1–10.

God verander mense

Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel. Dan sal jy lewe (Deut 30:6).

“God laat U-draaie toe,” lees ek op ’n kennisgewingbord langs die pad. En dit is tog die kenmerk van ware bekering. As jy op die verkeerde pad is, moet jy betyds omdraai. Toe ons laas in Wallis getoer het, het ’n Suid-Afrikaner haar GPS aan ons geleen sodat ons nie moet verdwaal nie. Die vriendelike vroue-stem het ons elke keer gesê watter afdraai om te neem. As ons moedswillig agter ons eie neus aanry, het sy binne sekondes weer ’n ander roete bereken sodat ons tog by ons bestemming kon uitkom. Maar soms het ons in ’n doodloopstraat beland. Dan het sy knaend gesê: “Make a U-turn NOW!” tot ons dit gedoen het.

God praat in vandag se Skrifgedeelte nog steeds met die volk Israel deur sy mondstuk, Moses. Hy weet reeds dat die volk nie die wet gaan onderhou nie. Hulle sal dan onvermydelik die gevolge van so ’n dwase keuse moet dra. Hulle sal oorwin word en as slawe weggevoer word. Maar selfs in die vreemde sal God nog steeds met hulle besig wees. Hy sal hulle aanmoedig om om te draai. En wanneer hulle dit doen, sal Hy hulle weer terugbring. En, soos ons teksvers ons vandag herinner, is dit net Hy wat ons hart regtig kan verander.

Het jy al by die U-draai gekom? Daar is nog tyd om dit vandag te doen. Van môre is ons nie so seker nie. Erken jou swakheid aan die Here, en laat Hom toe om jou te verander.

GEBED: “Here, dankie dat U ons toelaat om om te draai as ons op die verkeerde pad is. Ek wil dit heelhartig doen.”

Lees vanaand Deuteronomium 30:11–20 en vergelyk dit met Romeine 10:6-10. Dis die geheim van geloofsekerheid!

Uit die Beek 2012

Подняться наверх