Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 63

Sondag 26 Februarie

Оглавление

Lees Psalm 38:1–12.

Tweede Lydensweek

Siekte wat skeiding bring

My siekte hou my familie en my vriende ver van my af, en my bure kom nie naby my nie (Ps 38:12).

“My dokter, wat ook my beste vriendin is, het my die skokkende nuus vertel. Die uitslag van die toets was dat ek MIV-positief is. En die werklikheid van verwerping het my platgeslaan toe sy nie haar plastiese handskoene uitgetrek het om my te groet nie,” vertel iemand wat met die MI-virus saamlewe. Skielik het sy soos ’n melaatse in die Bybelse tye gevoel. Sy kon hierdie ramp nie met ander deel nie, want almal sou haar begin verstoot en vermy. Niemand wou meer by haar kuier nie. Hulle wou nie dieselfde teekoppies as sy gebruik nie. Hulle wou nie aan haar raak nie. Onkunde oor die virus het haar ’n verstoteling gemaak.

Ons weet nie meer wat die siekte was wat Dawid in hierdie tyd gehad het nie. Dit was blykbaar as hoogs aansteeklik beskou. Maar hy sou baie empatie kon hê met mense wat in ons dag met MIV en vigs moet saamlewe. En sulke mense kan ook identifiseer met die gevoelens wat Dawid in hierdie psalm neergepen het.

Miskien is jy vandag ook in soortgelyke omstandighede. Jy kan nie vandag kerk toe gaan nie. Miskien is dit ook nie juis omdat jy so siek is nie. Jy voel net nie daar welkom nie. Jy voel ander mense se veroordelende oë op jou. Onthou, die Here het jou lief net soos jy is. Hy is by jou in hierdie oomblik. Hy wil jou vandag ontmoet en jou seën.

En as jy iemand ken wat tans hierdie swaar ervaar, dan weet jy mos wat jy vandag moet gaan doen. Reik uit, en gee liefde.

GEBED: “Here, ons bid vandag vir elkeen wat verstote en alleen voel. Help ons om u liefde aan hulle te betoon.”

Lees vanaand in Psalm 38:13–23 hoe Dawid geleer het om in slegte omstandighede op die Here alleen te vertrou.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх