Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 61

Vrydag 24 Februarie

Оглавление

Lees Handelinge 1:12–14.

Maria bid ook

Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met ’n aantal vroue, onder wie ook Maria die moeder van Jesus (Hand 1:14).

“Let op dat Maria een van die bidders is, nie die een wat aanbid word nie,” het wyle prof. Tobie aan ons in die Kweekskool geleer. Daar is baie mense wat tot Maria bid. Dit lyk asof hulle voel dat sy met meer liefde en verdraagsaamheid na hulle luister as die drie-enige God.

Ek wens soms ek kon daardie eerste bidure bywoon. Vir tien dae lank het die gelowiges elke dag saam gebid. Ons weet nie of hulle dag en nag gebid het, of net vir ’n uur of twee per dag nie. Maar aan die einde van daardie dae was hulle harte voorberei vir die wonderlike seën van vervulling deur die Heilige Gees. Ons kan dus verwag dat daar tye van sondebelydenis en van oorgawe was. Hulle het nog nie mooi geweet wat om te verwag nie, maar hulle het geweet dat hulle onmoontlik Jesus se opdrag kon uitvoer sonder die krag wat Hy belowe het.

Maria was ’n besondere vrou, wat reeds veel hartseer deurgemaak het. Van voor Jesus se geboorte af het sy skande, verwerping, hartseer en vreugde geken. Sy het dit regtig nie maklik gehad nie. Maar sy het ook na hierdie bidure gekom. Sy het ook die toerusting van die Heilige Gees nodig gehad. En as ons uiteindelik lees dat almal – elke man en vrou en kind – wat daar bymekaar was, deur die Gees vervul is, dan weet ons Maria was ook daar. En sy het ook met vrymoedigheid en krag die groot dade van God verkondig. Is jy ook gewillig om God se instrument te wees?

GEBED: “Dankie vir iemand soos Maria wat ons wys hoe ons moet optree om u wil te leer ken, Here, en toegerus te word om u groot dade te verkondig.”

Lees vanaand in Handelinge 1:15–26 hoe die leemte wat Judas Iskariot gelaat het, uiteindelik gevul is.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх