Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 77

Sondag 11 Maart

Оглавление

Lees Psalm 40:1–6.

Vierde Lydensweek

Dit sal weer beter gaan

Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop (Ps 40:3).

“As jy voel dat jy kleitrap, dan moet jy begin om bakstene te maak.” In ’n tyd van teerpaaie verstaan min mense hoe sleg dit is om op ’n modderpad vas te val. Van ons ouer lesers sal nog sulke tye onthou, en dalk ook ’n paar verbete viertrek-avonturiers. Dit kos klippe en takke pak en stoot en beur, en soms nog ’n paar trekdiere of ’n trekker om ons uit ons penarie te verlos. Dawid het seker nie letterlik in ’n put beland nie, maar daar was seker tye van depressie in sy lewe. Jy sal ook in jou eie lewe aan sulke tye kan dink.

Sulke slegte tye is gelukkig nie vir altyd nie. Jesus het daar in Getsemane so ’n tyd geken, en ook aan die kruis die gevoel van godverlatenheid. Maar daar was ook ’n opstandingsdag, want Jesus is uit die put van die doderyk gehaal, en ná die hemelvaart het Hy weer sy ereposisie in die hemel ingeneem. En elke mens wat tot bekering kom en vergifnis beleef, is ’n verdere bewys dat dit alles die moeite werd was.

Waar daar vandag in elke gemeente nagedink word oor Christus se lyding, sal dit ons nie moedeloos maak nie, want ons ken reeds die res van die verhaal. Ons weet dat die lyding doelgerig was, en dat dit ’n goeie resultaat gehad het. Ons kan dieselfde sekerheid hê oor ons eie lyding, en dié van ons geliefdes. Dit sal weer beter gaan – indien nie hier op aarde nie, dan in die ewigheid.

GEBED: “Here God, dankie dat U in volle beheer is van alles wat in hierdie tyd met my en my familie gebeur.”

Lees vanaand in Psalm 40:7–13 wat die belangrikste in ons lewe moet wees.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх