Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 78

Maandag 12 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 7:30–34.

Tyd om te werk

“Kom nou nader; Ek wil jou na Egipte toe stuur” (Hand 7:34).

“Die regering oorweeg dit nou om die aftreedatum van 65 na 70 te verskuif,” lees ek nou die dag in die koerant. In die tyd voor Christus was die gemiddelde leeftyd van ’n man glo 33 jaar. Deesdae is die gemiddelde leeftyd van ’n Japannees oor die 90 en baie haal ’n volle eeu. En om op 65 of vroeër af te tree en al jou kennis en ervaring in onbruik te laat verval, is regtig nie goeie rentmeesterskap nie.

Stefanus herinner ons vandag daaraan dat Moses op tagtig nie gaan aftree het nie, maar toe eers met sy eintlike lewenstaak begin het. Hy het die Israeliete vir ’n veertig jaar gelei. Dit het ook nie by hom begin nie, maar by God, wat hom tagtig jaar lank daarvoor voorberei het.

Terwyl ons vandag hierdie oordenking lees, verskil ons omstandighede. Sommige van ons is nog jonk en sterk, en sommige is reeds seniors. Maar ons het elkeen ’n rol om te speel in God se koninkryk. Sommige word na ander lande gestuur om groot dade te doen, soos Moses. Ander moet die gestuurdes op verskillende maniere ondersteun. En dan die belangrikste van alles: Sommige van ons moet hulle in gebed dra. Nie een van ons is te oud of te jonk vir hierdie groot en verantwoordelike taak nie.

Ons word nie gered om eendag die hemel te gaan vol sit nie. Ons word gered om vir die Here te werk. Elkeen van ons het ’n taak. Wat is joune? God is reeds aan die werk. Net soos Hy besluit het om die Israeliete te bevry, en daarom vir baie jare vir Moses voorberei en toegerus het, so is Hy ook besig om op baie plekke en maniere te werk. Luister na sy roepstem vir jou!

GEBED: “Here, ek is bang, maar U wat my voorberei het, kan my maar stuur.”

Lees vanaand in Handelinge 7:35–43 hoe die volk gedurig onwillig was om God se wil te doen.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх