Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 82

Vrydag 16 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 8:26–31.

Luister nou mooi!

“Gaan loop saam met daardie wa” (Hand 8:29).

“Verstaan ek die Here reg dat ek hierdie wonderlike herlewing in Samaria moet verlaat en in die suide langs ’n eensame pad moet gaan sit?” het Filippus seker gewonder. Ons lees dat ’n engel vir hom die opdrag gegee het. Was dit in ’n droom? Was dit ’n engel in die vorm van ’n gewone mens? ’n Mens sou graag langs Filippus wou gaan sit en hom uitvra presies hoe die Here met hom gepraat het, en hoe hy geweet het dit is die Here se opdrag. Een ding is seker: Hy was gewillig om ten alle koste gehoorsaam te wees.

Terwyl hy toe daar langs die woestynpad sit, sien hy ’n stoffie aankom. Dit was ’n lang slap amps-ossewa, met Etiopië se minister van finansies daarin. En dadelik het Filippus geweet dat die Heilige Gees hom aansê om by daardie geselskap aan te sluit (Hand 8:29). Hy het nie getwyfel nie. Hy het selfs gehardloop om die wa in te haal, en het by presies die regte vers uit Jesaja die minister in die rede geval. Die minister het van die God van Israel gehoor en Hom kom aanbid, maar was nie eens toegelaat om in die tempel in te gaan nie, omdat hy ontman was. Maar hy het darem ’n stukkie Bybel te koop gekry. En op die regte oomblik kom die teksvers, die leser en die boodskapper by mekaar uit. Wat ’n wonderlike en ingewikkelde organisasie het dit nie gekos nie! Net God kan dinge so netjies reël!

Dit is wonderlik om te hoor hoe God vandag nog sulke afsprake reël vir sy kinders wat ingestel is om sy stem te hoor. Het jy dit ook al so ervaar?

GEBED: “Here, help my om u opdragte duidelik te hoor en te gehoorsaam.”

Lees vanaand in Handelinge 8:32–40 hoe die minister die Here Jesus aanneem en met blydskap teruggaan Afrika toe.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх