Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 81

Donderdag 15 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 8:9–17.

Onverwagte bekeerling

Selfs Simon het gelowig geword (Hand 8:13).

“Hoe weet ’n mens of iemand werklik tot bekering gekom het?” is ’n vraag waaroor elke leraar (en gelowige) soms wonder. So baie jongmense gaan deur die kategese en verseker die gemeente plegtig dat hulle waarlik die Here Jesus aangeneem het en dat hulle voortaan vir Hom wil lewe. Maar die Sondag nadat hulle belydenis van geloof afgelê het, is hulle afwesig by die erediens. Was dit vir hulle dan ook maar net ’n “boerematriek” wat hulle gedoen het omdat hulle ouers dit wou hê? Was dit dan nie eg nie? Baie van ons lidmate getuig dat hulle eers jare later werklik tot oorgawe gekom het.

Simon die Towenaar was ’n kulkunstenaar wat die mense van Samaria jare lank mislei het. Hulle het vas geglo dat hy “Die Groot Krag van God” was. Hy het ’n groot aanhang gehad. Maar toe die eenvoudige diaken Filippus daar begin werk en die mense egte wonderwerke beleef, het sy aanhang gekwyn, en hy is self ook oortuig om ’n Christen te word. Hy het oral saam met Filippus gegaan. Hoe eg sy bekering was, is moeilik om te sê, want hy het gedink hy kon hierdie krag koop, soos ons vanaand sal sien. Hy was veral beïndruk toe hy sien hoe Petrus en Johannes mense kon help om die vervulling deur die Heilige Gees te ervaar.

Wat beteken dit dat die mense die Heilige Gees eers deur die apostels kon ontvang? As iemand tot geloof kom, is dit tog reeds die werk van die Heilige Gees, en almal wat aan Jesus behoort, het reeds die Heilige Gees (Rom 8:9). Hier is duidelik iets ter sprake wat gesien kon word, en daarom was dit waarskynlik tekens soos die spreek in tale of genesingswonders.

GEBED: “O Heilige Gees, vervul my weer! Ek wil toegerus wees vir die werk wat U vir my het.”

Lees vanaand in Handelinge 8:18–25 hoe sterk Petrus vir Simon aanspreek en hoe hy hom tot bekering roep.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх