Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 74

Donderdag 8 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 6:1–7.

Net die beste is goed genoeg

“Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel” (Hand 6:3).

“Diakens is soort van junior ouderlinge, en doen dienswerk tot hulle oud genoeg is om as ouderlinge gekies te word.” Stem jy saam met hierdie katkisant se definisie? Dit mag waar wees van sommige tradisionele kerke, maar dit is nie wat ons in die Bybel leer nie. Die eerste diakens was die heel beste lidmate wat hulle kon kry, en waarskynlik ook nie juis jonk nie.

Die eerste gemeente het vinnig gegroei. Daar was baie lidmate wat hulp nodig gehad het, en die apostels kon nie bybly om hulle te versorg nie. Toe daar klagtes van diskriminasie ontstaan, het Petrus hulle almal bymekaargeroep en verduidelik dat hulle uit hulle eie geledere diakens moet kies. Nie sommer enige jongman nie, maar manne wat bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees en wysheid is. Die Heilige Gees moes hulle lei in hulle besluitneming, en hulle sou baie wysheid nodig hê om die regte manier van hulp te kan identifiseer. Die apostels wou hulleself toelê op gebed en die prediking (Hand 6:4).

In Suid-Afrika is daar soveel werkloosheid dat elkeen wat produktief is, vir ten minste vier ander moet sorg, volgens een van ons ministers. En met die baie bedelaars wat by ons deure kom klop, weet ons ook nie altyd wat die waarheid is nie, en wat die regte manier is om hulle te help nie. Elkeen van ons het die leiding van die Heilige Gees en wysheid nodig.

GEBED: “Here, ons bid vir elke diaken, en vir ons, vir die nodige wysheid en die leiding van die Heilige Gees.”

Lees vanaand in Handelinge 6:8–15 hoe een van die diakens valslik aangekla en voor die hof gesleep is.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх