Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 83

Saterdag 17 Maart

Оглавление

Lees Handelinge 9:1–9.

Ek is Jesus

“Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen” (Hand 9:5–6).

“Wie is die laaste persoon wat jy sou verwag om tot bekering te kom?” Jy kan seker aan so ’n persoon dink. Die grootste vyand van die Christendom? Die mees uitgesproke ateïs? Die wreedste Christenvervolger? Die ryk man wat almal uitbuit en onderdruk vir sy eie voordeel? Saulus van Tarsus?

Saulus was so seker dat hy op die regte pad is. Hy het mos die beste teologiese opleiding gekry, by professor Gamaliël. Hierdie Jesus wat glo gesê het dat Hy en God een is, was mos duidelik ’n dwaalleraar. Die stories van sy volgelinge dat Hy weer uit die dood opgestaan het en na die hemel toe opgevaar het, kan tog nie waar wees nie. Hy het met mag teen hierdie “dwaalleer” opgetree en mans en vrouens in die tronk gestop. Ons hoor nie wat van die kinders geword het wat sonder versorging gelaat is nie. Saulus was die regte man vir die oomblik. Hy sou die suiwere leer handhaaf.

Maar tydens sy woestynreis het hy kans gekry om te dink. Waarvoor leef hy? Vir God, of vir homself? En toe hy skielik met die lewende Jesus te doen kry, is sy lewe totaal verander. Nou het hy nie meer getwyfel of Jesus lewe nie. Van nou af wou hy vir Christus lewe (Fil 1:21). Waar hy Christene vervolg het, word hy nou self vervolg. Waar hy die evangelie wou uitroei, word hy nou self die grootste sendeling. Is die genade van die Here Jesus nie verrassend groot nie? Hierdie selfde lewende Jesus werk ook in en deur jou en my. Wonderlik!

GEBED: “Here Jesus, dankie dat U lewe, en dat U uit genade ook na my toe uitgereik het.”

Lees vanaand in Handelinge 9:10–16 hoe Ananias die opdrag van die Here gehoorsaam, al maak dit nie vir hom sin nie.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх