Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 26

Saterdag 21 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 12:20–32.

Alle godsdienste is nie gelyk nie

Moenie sê: “Hoe vereer hierdie nasies hulle gode? Ek sou dit ook so wou doen” nie (Deut 12:30).

“Hoe kan jy teen iets praat wat jy nog nie self ervaar het nie?” is die redenasie waarmee baie mense deur dwelms, drankmisbruik, okkultisme en satanisme gevang word. Mense is mos nuuskierig. “Ek wonder hoe dit voel.” “Is daar regtig so iets?” “Sê nou dit werk?” “Daar is tog niks mee verkeerd om glasie-glasie te speel, of om by ’n partytjie ’n Ouija-bord te gebruik nie?” “Ag toe, net een keer sal tog nie skade doen nie?” En so trap ons in die slagysters wat die duiwel vir ons stel.

Vir die Israeliete het daar ook baie slagysters in die pad gelê. Ongelukkig het hulle baie gou van Moses se waarskuwings vergeet, en keer op keer maar weer in afgodediens verval. En elke keer was die gevolg dat die Here hulle in die hande van hulle vyande oorgegee het. Ons lees hier van mense wat hulle eie kinders lewend verbrand het om hul afgode te dien (32) en selfs dít het later onder die Israeliete voorgekom (Jes 57:5).

“Maar Ma, almal maak tog so,” is al eeue lank die argument van kinders wat graag soos die ander wil wees. Groepsdruk is iets vreesliks, en ’n kind wil nie “uit” wees nie. Ons moet hulle dus deur ons voorbeeld en ons woorde help om te verstaan dat “almal” nie noodwendig reg is nie. Dis dom om altyd te wil wees en doen soos die ander doen. Die staat het besluit alle godsdienste is gelyk. God stem nie saam nie. Vir wie gaan ons vandag en môre luister?

GEBED: “Here, U is heilig en U is die enigste Here. Ek wil U alleen met my hele hart dien.”

Lees vanaand in Deuteronomium 13:1–10 hoe ernstig ons gewaarsku word teen profete, vriende of familie wat ons na dwaalleringe wil verlei.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх