Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 29

Dinsdag 24 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 14:22–29.

Die beste belegging

As jy dit doen, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy aanpak (Deut 14:29).

“Waar is die beste plek om my pensioengeld vir my oudag te belê?” het ek gewonder toe die tyd vir aftrede naderkom. Mense het met allerhande voorstelle gekom, soos: “Vaste eiendom gee die beste sekuriteit, want niemand kan grond wegdra nie.” So gesê, so gedaan, en toe gaan die beleggingsmaatskappy bankrot en alles is daarmee heen, vaste eiendom of nie. Swak belegging!

In Moses se dae was daar geen pensioenskema nie. Elkeen moes maar vir homself voorsiening maak, want daar was geen banke nie. Dit het dus maar swaar gegaan met weduwees en wese wat nie eiendom besit het nie, en dus nie kos kon produseer nie. Die Leviete het ook nie plase gekry nie, maar moes lewe van die tiendes van die ander Israeliete, omdat hulle die volk moes onderrig in die wet van die Here (Num 18:24). Elke Israeliet moes dus ’n tiende van sy aanwas, diere en gewasse, aan die Leviete gee.

Ons lees egter ook van ’n tweede tiende wat hulle moes gee – hierdie keer net van die graanoes (Deut 14:22). As hulle ’n goeie oes gehad het, moes hulle dié tiende verkoop en die geld na die tempel neem, waar hulle weer kos kon koop, want hulle moes gaan feesvier voor die Here. Hulle moes ook die Leviete in hulle omgewing onthou, en hulle uit dié tiende help (v 27). Elke derde jaar moes hulle nie hierdie bydrae na die tempel neem nie, maar die fees by die huis hou, sodat hulle die weduwees en wese en vreemdelinge in die omgewing daarmee kon seën. Só kon hulle dan weer op hulle beurt staat maak op God se seën (v 29).

GEBED: “Here, help my om die behoeftiges in ons omgewing te seën uit alles waarmee U my geseën het.”

Lees vanaand in Deuteronomium 15:1–11 hoe die Here voorsiening maak vir die armes in die land.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх