Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 28

Maandag 23 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 13:11–18.

Keer die kwaad

Die hele Israel moet dit hoor en bang word sodat so ’n verkeerde ding nie weer onder julle gedoen word nie (Deut 13:11).

“Bring asseblief die doodstraf terug,” het meer as 80% van die deelnemers gestem tydens ’n opname ’n ruk gelede. Hulle glo vas die misdaadvlaag en moord-epidemie het begin toe die doodstraf afgeskaf is. In die “goeie ou dae” was moorde iets uitsonderlik en skaars. Nou word daar elke dag meer as 50 mense vermoor, en feitlik nie een van die moordenaars word ooit aangekeer nie. En selfs al word hulle gevang en skuldig bevind, kry hulle dan ’n heerlike vakansie op die belastingbetaler se onkoste – altans, dit is wat die meeste mense blykbaar dink. Is die dreigement van doodstraf wel ’n afskrikmiddel?

In Deuteronomium is Moses nog steeds besig om die volk te vermaan om die Here alleen en voluit te dien. Vals profete en ander mense wat afgodediens bepleit, moet summier tereggestel word. Dalk sal dit die volk op die regte pad hou. Ongelukkig het dit toe nie gewerk nie. Miskien omdat dié wette nie noukeurig toegepas is nie, of miskien omdat die mens se sondigheid hom nie laat afskrik nie.

Wat is die beste manier om die misdaad in ons land te bestry? Meer tronke bou? Meer wette? Meer diefwering en meer veiligheidswagte? Sal ’n kragtige herlewing nie ’n beter oplossing wees nie? In die Transformations-video word vertel van streke in Suid-Amerika waar misdaad verdwyn het en tronke leeg staan omdat mense se harte verander het. Ook in die groot herlewing in Wallis het die polisie skielik sonder werk gesit, en het toe maar kore gevorm wat in die gemeentes kon gaan optree.

GEBED: “Here, ons bid U om weer ’n kragtige herlewing te stuur.”

Lees vanaand in Deuteronomium 14:1–21 hoe die volk van die heidense volke moes verskil, selfs in hulle dieet.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх