Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 31

Donderdag 26 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 16:13–20.

Erken die Gewer

Elkeen moet ’n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig gemaak het (Deut 16:17).

“Dit klink asof elke dorp deesdae sy eie fees het, volgens sy produkte, en daarom is daar ’n Pampoenfees, ’n Biltongfees, ’n Vleisfees en selfs ’n Mampoerfees!” Dit is alles pogings om die dorp te bemark en soveel moontlik besoekers te lok. Min dorpe hou egter godsdienstige feeste, soos die Israeliete gedoen het.

Drie maal elke jaar het al die mans (Deut 16:16) by die tempel saamgetrek om voor die Here fees te vier. Die Paasfees (v 1–8) moes hulle herinner aan die dag toe hulle uit Egipte weggetrek het. Dit was ’n plegtige fees van geestelike verdieping. Dit stem ooreen met die Paasfees wat ons vandag nog vier.

Die Pinksterfees was sewe weke later (v 9). Dit is blykbaar getel van die dag waarop hulle ná die Paasfees weer begin werk het. Die naam beteken Vyftig en het die begin van oestyd aangedui. Daar was groot vreugde oor die oes wat die Here voorsien het. Die Pinksterfees (Hand 2:1–2) was ook vir die kerk die begin van die eerste groot oes, toe drie duisend mense tot bekering gekom het.

Die derde fees was die huttefees (Deut 16:13). Dit was aan die einde van die oes, en dus ’n vreugdevolle dankfees. Dit moes hulle ook herinner aan die woestynreis, toe hulle vir veertig jaar in tydelike skuilings gebly het. Vandag word dit die Sukkot genoem, en dit word nog steeds gevier.

Christene het nog baie meer om te vier. Laat ons dus nie die feeste misloop nie, maar met groot vreugde die Here dank vir alles wat Hy in ons lewe gedoen het.

GEBED: “Dankie vir die vreugde wat U alleen kan gee, Here.”

Lees vanaand in Deuteronomium 16:21–17:13 hoe respek en gehoorsaamheid afgedwing is.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх