Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 40

Saterdag 4 Februarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 23:9–25.

Onthou jou beloftes

Wanneer jy ’n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie (Deut 23:21).

“Hoekom is katkisante nooit in die kerk op die Sondag ná hulle belydenis van geloof afgelê het nie?” wonder ’n kollega. Net die vorige Sondag het hulle baie plegtig belowe dat hulle aan die Here getrou sal wees en getrou sal wees in hulle kerkbywoning. En nou skitter hulle in hulle afwesigheid. Dis asof hulle ’n bietjie vakansie wil hou nadat hulle hulle “boerematriek” deurgekom het. Dikwels sien ons hulle jare later eers weer, as hulle getroud is en self kinders het. Is dít die soort toewyding wat die Here verbly? Seker tog nie.

In vandag se Skrifgedeelte het ons oor baie sake gelees wat nie baie met mekaar te doen het nie. Maar hierdie een is baie belangrik. Die Here neem kennis van wat ons aan Hom belowe. Daardie gelofte wat ons maak om in die huwelik aan mekaar getrou te bly tot die dood ons skei, is belangrik. Hy wil ons graag gelukkig getroud sien. Daarom moet ons volgens sy Woord saamlewe. Ons sal verseker misverstande en versoekings ervaar, maar as ons op die Here vertrou, sal Hy ons deur elkeen veilig bewaar (1 Kor 10:13).

Wanneer ouers hulle kinders bring om gedoop te word, maak hulle ’n gelofte om daardie kind deur hulle woorde en voorbeeld op die pad van die Here te begelei. Jy belowe ook om te sorg dat die mense wat jou kind onderrig, daarmee sal help. Waarom is dit dan dat so min gesinne deesdae nog getrou saam huisgodsdiens hou? Kom ons onthou wat ons belowe het, en doen dit!

GEBED: “Here, dit is so maklik om dinge aan U te belowe. Help my om elke belofte na te kom.”

Lees vanaand in Deuteronomium 24:1–9 van verskillende reëlings oor die huwelik en militêre diensplig.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх