Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 41

Sondag 5 Februarie

Оглавление

Lees Psalm 36:1–7.

Opstand teen God

In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord (Ps 36:1).

“Hoekom is ateïste so aggressief teen God? Ek hoor nooit dat hulle teen feetjies praat nie, hoewel hulle seker ook nie in feetjies glo nie. Is dit nie dalk omdat hulle wel in God glo nie?” vra ’n vriend. Dit is nogal iets om oor na te dink. Probeer hulle dalk hulle verkeerde optrede regverdig? Of is daar dalk ’n ander persoon wat agter die skerms besig is om in groot paniek te probeer keer dat mense in God glo en Hom begin gehoorsaam? Eendag in die ewigheid sal dit seker baie interessant wees om die ware motiewe agter mense se optrede te ontdek.

Vandag se teksvers is moeilik om in die oorspronklike taal te verstaan, soos jy sal sien as jy na die 1933-vertaling van die vers kyk. Die bedoeling is egter duidelik, en die 1983-vertaling probeer dit so verstaanbaar moontlik deurgee. Dawid noem homself hier die dienaar van die Here, en beskryf dan hoe die goddelose mens net mooi die teenoorgestelde as ’n dienaar van die Here doen. Kyk weer na die beskrywing. Lyk dit nie dalk bekend nie?

Vandag is die Here se dag. Hoe gaan jy dit deurbring? Soos ’n mens van ’n “dienaar van die Here” sou verwag, of soos goddelose mense vandag sou doen? Is jy werklik anders as wêreldse mense? Ons het nodig om te verander. Kom ons gee die Here vandag kans om met ons te werk.

GEBED: “Here, ek is ook u dienaar. Help my om vandag ten volle te benut, sodat U u doel met my kan bereik.”

Lees vanaand in Psalm 36:8–13 die pragtige beskrywing van God se optrede as teenpool van goddelose mense s’n.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх