Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 34

Sondag 29 Januarie

Оглавление

Lees Psalm 35:19–25.

Tye van onreg

U is regverdig, Here my God, laat reg aan my geskied, sodat hulle hulle nie in my leed verlustig nie (Ps 35:24).

“Dit opmerklik dat die prokureurs in Amerika die ongewildste en rykste mense is, want hulle maak hofsake oor beuselagtighede, en wen dan sowaar.” Dit gaan blykbaar nie oor die nood van ’n veronregte nie, maar oor selfverryking. Gelukkig is alle prokureurs nie so nie. Daar is wel prokureurs, advokate en regters vir wie die waarheid saak maak, en wat die wil van God in hulle beroep soek. Dank God vir hulle.

Dawid vertel hier hoe hy onregverdig aangekla word, hoe mense agter sy rug van hom skinder, en hoe hulle fyn beplan hoe om hom te na te kom. Hulle soek nie vrede nie, maar dat onreg geskied (v 20). Dit kan wees dat hy verwys na die tyd toe hy vir Saul moes vlug, of dalk toe sy eie seun Absalom hom probeer vermoor het.

Dit is baie sleg as mense wat jy as jou vriende beskou het, jou in die hof aankla en selfs onder eed leuens vertel. Dit is niks nuuts nie. Jesus het ook ervaar dat sy beste vriende, aan wie Hy drie jaar van sy lewe gegee het om hulle toe te rus, Hom in die steek laat en wegvlug. Een van sy beste vriende het selfs gesweer dat hy glad nie vir Jesus ken nie (Mark 14:68–71).

Maar doen ons nie ook dieselfde as ons stilbly terwyl iemand God belaster, of goddelose grappies maak nie? As ons die waarheid so ’n bietjie rek, of ’n wit leuen vertel, is dit dan nie maar dieselfde nie? Kom ons gaan luister vandag mooi wat die Here vir ons in die kerk gaan sê, en laat ons dan doen wat Hy sê.

GEBED: “Here, vergewe my as ek onreg toelaat. Verander my, sodat ek voluit u wil sal soek en doen.”

Lees vanaand in Psalm 35:26–28 hoe Dawid verwag dat die reg sal seëvier en dat God die eer sal kry.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх