Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 13

Sondag 8 Januarie

Оглавление

Lees Psalm 33:1–11.

Loof die Here!

Loof die Here met die lier, speel vir Hom op die harp! Sing vir Hom ’n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit! (Ps 33:2–3.)

“Ai, maar die jongklomp is darem rumoerig as hulle musiek maak! Ek is lus om te vlug, want dit is so oorverdowend. Maar ek verduur dit maar ter wille van hulle,” sug ’n ma wat gereeld die Tekkiediens saam met haar kinders bywoon. Baie van ons het grootgeword in ’n tyd toe ons aanbidding baie rustig en stemmig was. Ons het geleer om groot respek vir God te hê, en daarom moes ons nie ons godsdiens geniet nie. Maar vergelyk dit net ’n bietjie met wat ons in hierdie psalm gelees het. Hy sê ons moet met volle oorgawe sing en speel, en nuwe liedere komponeer en sing. Is dit nie wat ons jongmense deesdae doen nie? Dan is hulle mos reg in die kol!

“Toe daardie tienduisende mense gelyktydig die Here begin loof, het my hare regop gestaan! Ek was nog nooit so bewus van God se magtige teenwoordigheid nie,” vertel ’n vriend wat ’n massasaamtrek op Nuweland bygewoon het. Ja, dit is goed om die Here op jou eie te loof, maar as ons dit saam met baie ander doen, gebeur daar wonderlike dinge.

Miskien is jy nie vandag lus om kerk toe te gaan nie. Jy is nie eens lus om vandag die Here op jou eie met sang te loof nie. Maar onthou wat die Here graag vandag van jou wou hê. Hy wil jou seën – veral as jy saam met sy ander kinders vergader. Dit sal sy hart baie bly maak. As jy dit vandag weens omstandighede nie kan doen nie, sal Hy natuurlik verstaan. Loof Hom dan net daar waar jy is!

GEBED: “Here, ek loof U vir wie U is en vir alles wat U gedoen het en steeds nog doen. Wys my hoe ek vandag u hart bly kan maak.”

Lees vanaand in Psalm 33:12–20 waarom dit so nodig is dat ons vanjaar op die Here alleen moet vertrou.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх