Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 11

Vrydag 6 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 3:12–20.

Help mekaar

Julle moet saam met julle volksgenote trek totdat die Here ook aan hulle, soos aan julle, ’n veilige woonplek gegee het (Deut 3:20).

“Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie,” het Paulus die gemeente in Rome herinner (Rom 14:7). Hy praat oor mense in die gemeente wat mekaar veroordeel omdat hulle nie oor alle geloofsake saamstem nie. Die kerk van die Here word maklik verdeel oor dinge wat regtig nie belangrik is nie. Die eenheid van die gemeente, en die kerk as geheel, is vir die Here Jesus baie belangrik (Joh 17:21). Hy gee ons aan mekaar om mekaar oor alle grense heen te help. Al is ons van verskillende kulture of kerklike tradisies, is ons een groot familie en moet ons mekaar help.

Moses herinner die volk hoe dit gebeur het dat die verowerde gebied oos van die Jordaan die erfgrond van die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse geword het. Die hele volk het geveg sodat hulle dit kon kry, en hulle het toe belowe om saam met die res van die volk te veg totdat al die stamme hulle eie erfdeel gekry het (20). Dit het uiteindelik ook so gebeur.

Die naam Helpmekaar duik oral in die Suid-Afrikaanse geskiedenis op, van die geskiedkundige dorpie Helpmekaar naby Dundee tot die Helpmekaar Studiefonds wat ontstaan het uit geld wat oorgebly het nadat die burgers wat in die rebellie van 1914-1915 betrokke was, uitgehelp is. Maar is dit nie ook ’n baie goeie leuse vir die Christene van vandag nie? Ons moet mekaar se laste dra, in opdrag van Christus (Gal 6:2). Ons is daar vir mekaar!

GEBED: “Here, dankie dat U ons vir mekaar gegee het om mekaar in alle omstandighede te ondersteun. Help ons om dit te doen.”

Lees vanaand in Deuteronomium 3:21–29 hoe Moses se gebed nie verhoor is nie, en hoe hy vir Josua moes bemoedig.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх