Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 16

Woensdag 11 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 5:16–22.

Wette wat beskerm

Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ’n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee (Deut 5:16).

“Kan jy jou indink hoe ’n land sou lyk as hy besluit om al tien gebooie van God volledig te verwerp?” het ek die gemeente uitgedaag, en toe elkeen van die Tien Gebooie omgedraai. Die skokkende is dat ons dan ’n prentjie van ons eie land sien! Gesag word verwerp, moorde en diefstal is alledaags. Jy kan feitlik niemand meer vertrou nie. Niemand knip meer ’n oog oor egbreuk nie. Alles word vir ons so begeerlik as moontlik opgedis. Die rusdag word ’n sportdag en inkopiedag. Alle godsdienste is gelyk.

In so ’n land en wêreld moet Christene vandag hul unieke getuienis uitleef. Die vraag is: Doen ons dit so dat dit hoegenaamd ’n verskil maak? Leer ons ons kinders om Christene in ’n sekulêre wêreld te wees, of het ons handdoek ingegooi en besluit dis klaar te laat?

“Die oplossing vir die geweld in ons skole is nie metaalverklikkers nie,”

noem ’n professor een aand. “Dit is eerder om die kinders se karakter te bou.” Dit is ongelukkig so dat baie kinders nie meer tuis in Christelike waardes onderrig word nie. Dit is ook nie meer die beleid in staatskole (wat sekulêre instellings geword het) nie. Ons, die kerk, sal moet inspring in hierdie 4-14-Venster. Kinders is die bevatlikste vir die waarheid tussen die ouderdomme van 4 en 14. As ons hulle nie in daardie tyd met die evangelie bereik nie, is die kanse skraal dat ons hulle later weer na die Here sal kan teruglei. Kan jy sien waar die Here jou nou nodig het?

GEBED: “Here, ons bid vir elkeen wat vandag na kinders toe uitreik. Seën hulle, en seën elke kind, sodat hulle U waarlik mag ken.”

Lees vanaand in Deuteronomium 5:23–33 waarom dit nodig is om die grootste eerbied vir God te hê.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх