Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 7

Maandag 2 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 1:1–8.

Vakansiedag

Tyd om te vorder

Trek in en neem dit in besit (Deut 1:8).

“Deutero-wat?” het iemand dalk verward uitgeroep toe hy of sy sien ons gaan die jaar met Deuteronomium begin. Dit is seker nie die Bybelboek wat die meeste van ons as ons gunsteling beskou nie. Tog was dit die Here Jesus se gunstelingboek. Hy het graag daaruit aangehaal, en selfs die duiwel moes elke keer die knie buig as die Here Jesus hom met ’n teks uit Deuteronomium troef (Matt 4:1–11). As dit dan so ’n kragtige en gesaghebbende boek is, kan ons verwag dat die Here vanjaar ook vir ons wil seën as ons hierdie besondere boek in sy teenwoordigheid lees en vir ons toe-eien.

Die volk Israel het in hulle duisende op die vlakte van Moab kampeer. Hulle was op die grens van die beloofde land. Vir 40 jaar het hulle in die wildernis rondgetrek, en feitlik almal wat destyds met die uittog uit Egipte begin het, was reeds dood. Die nuwe geslag was nou gereed om die land Kanaän binne te gaan, wat die Here so lank tevore aan hulle voorvader Abraham belowe het. Maar vir oulaas wou Moses hulle herinner met Wie hulle te doen het, sodat hulle op Hom kon vertrou, en nie op hulleself nie.

Ons staan ook vandag op die grens van ’n onbekende land: 2012. Ons weet nie wat hierdie jaar vir ons inhou nie. Maar ons weet Wie ons in hierdie jaar gaan begelei. Sommige mense glo vas dat 2012 die einde van die wêreld gaan wees, want dit is waar die antieke Maja-kalender ophou. Ons weet egter van beter. Hierdie wêreld is nie die einde nie. Daar is ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad. Kom ons maak gereed daarvoor.

GEBED: “Here, ons is bang vir 2012. Maar met U sal ons dit met vreugde tegemoetgaan.”

Lees vanaand in Deuteronomium 1:9–18 hoe Moses die werk van regspraak onder die volk verdeel het.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх