Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 9

Woensdag 4 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 2:1–12.

Doen net wat reg is

Hulle is bang vir julle, maar julle moet julle bedwing (Deut 2:4).

“Elke hond kry sy dag, en ’n brakkie kry twee,” sê ons graag vir mekaar as ons dink aan die dag wanneer ons iemand gaan terugkry vir die kwaad wat hy of sy ons aangedoen het. Ons verlekker ons vooruit aan die gedagte dat ons hulle ook sal kan verneder, soos hulle met ons gedoen het, en dat ons ordentlik sal kan wraak neem.

Maar in God se koninkryk werk dinge anders. Moses moes die volk ook leer dat gelowiges anders is. Hulle neem nie wraak nie (Rom 12:19). Dit was wel so dat die Edomiete (afstammelinge van Esau) hulle sleg behandel het toe hulle die vorige keer met hierdie pad langs getrek het (Num 20:21). Nou dat Israel sterk geword het, was die Edomiete bang vir hulle, maar hulle moes nie daarvan misbruik maak nie. Behandel hulle ordentlik, al kan jy hulle beroof; dryf eerder handel met hulle, sodat dit tot albei se voordeel is (v 6). “Die beste manier om van ’n vyand ontslae te raak, is om hom jou vriend te maak,” het president Abraham Lincoln glo by geleentheid gesê. En dit is iets om oor na te dink!

Die Here gaan vanjaar meermale met ons werk oor ons verhouding met ander mense. Om soos ’n ongelowige op te tree, sal geen probleme oplos nie. Miskien is die groot probleem vandag dat Christene juis net soos die ongelowiges optree. Niemand kan sien dat Christus werklik ’n verskil in ons lewe gemaak het nie. Die Here vra van ons om sy opdragte ernstig op te neem en om Hom te gehoorsaam. Net dan kan Hy ons gebruik om ons samelewing te verander en verkeerde verhoudings reg te maak.

GEBED: “Vergewe my, Here, dat ek u Naam so skade aandoen deur my verkeerde optrede. Help my om aan U gehoorsaam te wees.”

Lees vanaand in Deuteronomium 2:13–23 hoe die Israeliete hierdie keer geleer het om die Here se opdragte te gehoorsaam.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх