Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 19

Saterdag 14 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 8:1–9

Dissipline

Jy moet diep in jou hart weet: soos ’n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer (Deut 8:5).

“Die doel van dissipline is selfdissipline,” het iemand verduidelik. En dit laat die oneindige gedril op die paradegrond van die dienspligtiges en jong rekrute sin maak. “As julle mooi luister en presies doen wat ek vir julle sê, sal ek julle kan terugbring na julle mammas toe,” was die belofte van een korporaal. En dié van ons wat deur die weermag gegaan het, sal kan getuig dat ’n korporaal baie meer skrikwekkend is as ’n generaal!

Die Here het dit ook so beskik dat elke kind in ’n huis moet grootword waar hy deur dissipline geleer word om selfdissipline te kan toepas. Waar ’n kind sonder dissipline grootword, kan hy of sy ook nie aanpas in die grootmenslewe nie. Mamma doen haar kind ’n ongelooflike onreg aan as sy altyd maar toegee. Elke kind het grense nodig om gelukkig te wees, en toets gedurig daardie grense om seker te maak dat hulle stewig is. ’n Gedissiplineerde kind word ’n gelukkige kind wat verantwoordelikheid kan dra en wat vertrou kan word. Daarom is dit tragies as ’n ouer die kant van ’n stout kind kies teen die onderwyser, en nie saamwerk om die kind reg te vorm nie.

Ons het almal dissipline nodig. Moses herinner die volk daaraan dat hulle dit ook nodig het. Die swaar tye in die wildernis het hulle sterk gemaak vir die stryd wat voorlê. Dissipline is die geheim vir ’n gelukkige lewe. Dit sluit ook ’n vaste tyd vir die Here in, sodat ons elke dag geestelik kan groei.

GEBED: “Here, dankie dat U ons met dissipline seën sodat ons ook vir mekaar tot seën kan wees.”

Lees vanaand in Deuteronomium 8:10–20 watter gevaar voorspoed en rykdom vir jou kan inhou.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх