Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 15

Dinsdag 10 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 4:41–5:5.

Leer, om te lewe

Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe (Deut 5:1).

“Dit is eenvoudig wonderlik hoe dramaties my lewe verander het sedert ek begin het om die Skrif te memoriseer,” vertel ’n lidmaat. “My gebedslewe het eenvoudig in ’n ander rat oorgeskakel, en ek kon versoekings al hoe beter hanteer. Die Bybel is die geestelike kos wat ek nodig het om geestelik te groei.” Sy was natuurlik heeltemal reg. Die Here Jesus het vir ons die voorbeeld gestel: Toe die duiwel Hom versoek het, het Hy hom met Skrifaanhalings getroef (Matt 4:1–11). As Hy nie die Skrif gememoriseer het nie, sou Hy dit nie kon doen nie, want ’n mens dra nie die Tora saam met jou in die woestyn nie.

Moses het ook hierdie geheim geken. Waar hy dus in hierdie hoofstuk die volk wil herinner aan wat die Wet van God sê, begin hy om die volk te beveel om alles wat hulle nou gaan hoor, te leer. Dit moet nie net by een oor in- en die ander uitgaan nie. Wat hulle nou gaan hoor, gaan hulle elke dag nodig kry, want versoekings kom elke dag in baie vorms na ons toe.

Ek wil jou dus vandag uitdaag om God se raad te volg. Begin om elke dag minstens een belangrike vers te memoriseer. Kyk maar watter verse jy in jou Bybel onderstreep het. Jy kan dit op klein kaartjies soos visitekaartjies oorskryf, met die bewysplaas op die agterkant. As jy so ’n pakkie in jou sak hou, is dit die wonderlikste manier om daardie lang ure in die toue by staatsdepartemente of in wagkamers sinvol te gebruik. Leer dit, gehoorsaam dit en lewe daarvolgens!

GEBED: “Here, help my om u Woord in my hart te bêre. Help my dan om daarvolgens te lewe.”

Lees vanaand in Deuteronomium 5:6–15 die eerste vier van die Tien Gebooie, wat handel oor ons liefde vir God.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх