Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 6

Sondag 1 Januarie

Оглавление

Lees Psalm 32:1–7.

Nuwejaardag

Voorspoedige Nuwejaar!

Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie (Psalm 32:2).

“Voorspoedige Nuwejaar!” wens ons mekaar vandag hartlik toe. Sommige van ons kry reg om dit op ’n nuwe en vars manier te sê. Maar ons almal bedoel dat dit ’n goeie jaar moet wees, dat ons familie en vriende gelukkig sal wees, dat hulle alles sal ontvang wat hulle nodig het.

Die meeste van ons dink dan seker aan gesondheid en finansiële voorspoed. Koning Dawid het in hierdie “onderwysing” egter vir ons neergeskryf wat regtig belangrik is. In die Ou Vertaling begin hierdie vers met “welgeluksalig” en die Engelse vertalings praat van “blessed”. Die belangrikste ding wat vanjaar met ons kan gebeur, is dat ons sondes vergewe kan wees. In hierdie jaar moet dit nie net in materiële dinge nie, maar veral ook geestelik met ons goed gaan.

Die ergste wat met jou kan gebeur, is dat daar skeiding tussen jou en die Here sal kom. En daar is net een ding wat dit kan veroorsaak: sonde (Jes 59:2). Dit kan wees dat daar vanjaar groot uitdagings en teleurstellings vir jou voorlê, maar jy kan dit alles te bowe kom as jy doen wat hierdie psalm sê. Dawid vertel hoe hy sy oortredings aan die Here bely het, en Hy het dit vergewe (v 5).

Ek bid jou dus ’n wonderlike jaar saam met die Here toe. Mag Hy jou oorwinning gee oor elke sonde, sodat jy geestelik sal groei soos nog nooit tevore nie.

GEBED: “Here, verander my, sodat ek vanjaar vir ander mense tot seën kan wees. Vergewe my al my sonde.”

Lees vanaand Psalm 32:8–11 en verander elke vers in ’n gebed vir vanjaar.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх