Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 14

Maandag 9 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 4:25–31.

God onthou

Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met ’n eed aan julle voorvaders bevestig het nie (Deut 4:31).

“Die verbond met God moet nie as beperkend gesien word nie, maar as beskermend,” het Russel Nelson iewers geskryf. Ons vergeet so maklik van die krag van God se verbond. So maklik raak ons in horisontale godsdiensoefeninge betrokke, wat maklik verflou. Maar die verbond is die goue lyn wat dwarsdeur die Bybel loop, van Genesis tot Openbaring.

In vandag se Skriflesing waarsku Moses die volk dat dit maklik sou wees om met die stroom saam te gaan en die afgode van die volke om hulle te begin aanbid. Die gevolg sal onvermydelik wees dat daar verdrukking en swaarkry kom, want God gee om vir sy kinders. Hy wil nie dat hulle verlore gaan nie. Dit is deur beproewing dat die Here ons terugroep na Hom toe. Dit is gewoonlik eers as ons aan die einde van ons eie mensgemaakte planne gekom het dat ons hulp soek by die enigste Een wat ons regtig kan help. Al vergeet ons van die verbond, vergeet Hy nie. Hy het Hom aan ons verbind, en wil ons seën en ons gebede verhoor.

Dit is vandag vir ons ook maklik om eerste te gaan hulp soek by die dokters, of die prokureur, of “Die sterre voorspel”, of die Lotto, in plaas van heel eerste na ons liefdevolle hemelse Vader te gaan. Ons geld word maklik ons god, en dan kan ons verwag dat die Here genoeg vir ons sal omgee om ons te leer dat geld glad nie betroubaar is nie. Mense sal ons keer op keer teleurstel. Maar God het jou nie vergeet nie. Hy onthou sy verbond met jou.

GEBED: “Dankie vir u verbond, Hemelvader, wat U gegee het om ons te beskerm.”

Lees vanaand in Deuteronomium 4:32–40 hoe ons herinner word aan die groot dade van God in die verlede, om ons geloof te versterk.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх