Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 17

Donderdag 12 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 6:1–13.

Die geheim van ’n sterk nasie

Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan (Deut 6:6–7).

“Daar was ’n bom-alarm aan boord van ’n internasionale vlug toe ’n Joodse man sy filakteries uithaal en aan sy arm en voorkop bind,” lui ’n nuusberig. ’n Filakterie is ’n klein leerkissie met ’n gedeelte van die wet daarin, wat toegewyde Joodse mans om hulle linkerarm en voorkop vasbind wanneer hulle bid. Hulle neem die opdragte in vandag se Skriflesing baie letterlik op (v 8). ’n Mens sien ook soms metaalhouertjies met ’n Skrifgedeelte daarin aan die deurkosyne van Joodse huise vasgeskroef (v 9).

’n Mens kan hierdie opdragte moderniseer en sê dat die Skrif met ons moet praat oor wat ons doen (hand) en wat ons dink (voorhoof). Moses gaan dan ook verder en sê watter rol die Skrif in ons daaglikse lewe moet speel. Ons moet daaroor praat in ons huise en in die motor, as ons gaan slaap en as ons opstaan (7). Moet net nie probeer om vir die kinders te preek nie – hulle sal nie lank neem om hulle ore en harte vir jou preke te sluit nie. Hulle moet kan sien dat jy die Skrif self ook ernstig opneem.

Dink net wat die gevolg sou wees as al die Christene in ons land hierdie opdragte sou gehoorsaam! Dit sal soos suurdeeg in huise werk, en kinders sal opgebou word in hulle geloof, en ’n vreugde vir hul ouers wees. Net so sal dit soos suurdeeg deur gemeenskappe werk, en ’n nuwe gees van medemenslikheid en respek skep.

GEBED: “Here, help my om die opdragte in hierdie gedeelte in my eie lewe toe te pas, sodat my kinders U ook sal ken en volg.”

Lees vanaand in Deuteronomium 6:14–25 hoe ouers hulle geloof aan die volgende geslag moet aangee.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх