Читать книгу Uit die Beek 2012 - Attie van Wijk - Страница 8

Dinsdag 3 Januarie

Оглавление

Lees Deuteronomium 1:19–30.

Moenie bang wees nie

Kyk, die Here julle God stel die land tot julle beskikking. Trek in, neem dit in besit soos die Here die God van julle voorvaders julle beloof het. Moenie bang wees nie, moenie huiwer nie (Deut 1:21).

“Die bevel ‘Moenie bang wees nie’ kom 366 keer in die Bybel voor – een keer vir elke dag van ’n skrikkeljaar soos vanjaar,” vertel iemand my. As dit dan nodig is om een sinsnede so baie keer te herhaal, beteken dit seker dat daar baie dinge is om voor bang te wees! Maar ook dat ons nie nodig het om bang te wees as ons saam met die Here op pad is nie.

Moses is in hierdie gedeelte besig om die volk te herinner hoe dit gekom het dat hulle nou eers – 40 jaar later – weer op die punt is om die beloofde land binne te trek. Veertig jaar vantevore was hulle ook hier op die grens, en hulle het toe verkenners uitgestuur om te kyk hoe die land is. Dié het kom vertel watter wonderlike land dit is (v 25). Maar hulle het ook kom vertel van die reuse wat daar woon. Die reuse was vir hulle ’n groter werklikheid as wat die almagtige God was, en hulle het net daar omgedraai, ten spyte van alles wat Moses kon sê.

Vir ons lê daar vanjaar waarskynlik ook groot uitdagings – “reuse” – voor. Dit kan iets by jou werk of in jou huisgesin, of die ekonomie, jou gesondheid, die misdaadvlaag, of baie ander dinge wees. Ons sal moet leer om nie na die reuse te kyk nie, maar na die almagtige God wat die jaar saam met ons ingaan. Hy is ons hemelse Vader. Hy is lief vir sy kinders. Hy belowe dat alles vir ons ten goede sal meewerk (Rom 8:28). Ons hoef nie bang te wees nie.

GEBED: “Dankie dat U ons hier aan die begin van die jaar wil bemoedig. Ek wil nie meer daarvoor bang wees nie.”

Lees vanaand in Deuteronomium 1:31–46 wat die gevolg is as iemand uitdagings sonder God tegemoet gaan.

Uit die Beek 2012

Подняться наверх