Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 10

DINSDAG 3 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 1:19-31

Оглавление

GEDRA OP DIE WOESTYNPAD

Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos ’n man sy seun dra (1:31).

GESELSVRAAG: Wat was die swaarste tyd in jou lewe tot dusver?

“Here, waar was U toe dit so moeilik met my gegaan het? Ek sien dan net een ry spore in plaas van twee,” kla iemand wat gedroom het hy loop saam met die Here en toe hy omkyk, sien hy plek-plek net een ry spore. “Dit was die tye toe Ek jou gedra het,” kom die Here se antwoord.

Moses herinner die volk aan wat alles oor hul pad gekom het. Op een tydstip was hulle op die rand van die beloofde land, maar hulle moes terugdraai omdat hulle ongehoorsaam was. Het hulle dan vergeet van die tye wat dit goed gegaan het, toe hulle nog gehoorsaam was?

Ons het seker al almal so ’n woestynervaring gehad. Dit was moeilike tye en ons het amper moed opgegee. Tog het die Here ons daardeur gelei, en ons het veilig anderkant uitgekom. Dit is sulke ervarings wat ’n mens se geloof sterk maak. Dink net wie almal in die Bybel so ’n woestynpad moes loop voordat hulle gereed was vir hul eintlike werk. Ons hoef dus nie bang te wees vir enige uitdagings wat vanjaar op ons wag nie, solank ons op die Here alleen vertrou. Hy sal ons lei.

GEBED: Baie dankie dat ek saam met U hierdie nuwe jaar kan begin, Vader. Dra my waar ek swak is en bring my veilig by u huis.

Lees vanaand in Deuteronomium 1:32-46 hoe gevaarlik dit is om nie elke dag na die Here se opdrag te luister nie.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх